2 November 2015 - Maandag
Mamma
Ek is sooo bekommerd. Ek moenie wees nie, hy is in God se hande. Elke treetjie vorentoe. Sy lyfie begin ingee van die lank veg. Hy het vandag konvulsies gekry. Dit was vreeslik. My hele lyfie het saamgetrek en met tye kon die ventilator nie eens sy werk doen nie. My liefielyfie. My hart. Ek kon nie my hart kry om my kind in soveel pyn te sien nie. Maar die dokter het gekom en vir hom nuwe medikasie gegee wat weer help dat sy breintjie slaap. Ai, my liefielyfie. Jy moet asseblief gesond word. Kom terug na mamma toe.
Mamma
Die oorverdowende stilte in ICU. Suurstofmasjien sing die ritme van in-en-uit. In-en-uit. Oor, en oor, en oor. 'n Masjien roep vir medikasie, 'n gordyn trek toe, 'n stem of twee. Nog 'n masjien roep. Hartklop. Saturasie. Bloeddruk. Suurstof. In-en-uit. In-en-uit. Die foon lui. Nog 'n kindjie is oppad. 'n Stem bel uit....waar is ons bloed? Suurstof. In-en-uit. Die stem weer....waar is die toetse? Weer stilte. Suurstof. In-en-uit. In-en-uit. Voete skarrel, gordyne toe. Suurstof. In-en-uit. In-en-uit. Die sekondes stap aan, minute, ure, dae. Suurstof in-en-uit.