Share

29 Oktober 2015 - Donderdag


 

Mamma
Vanoggend toe ek by die pediatriese ICU instap skyn daar 'n sonstraal deur die klein venstertjie op Christo'tjie se gesiggie. En ek was rustig. God se lig skyn op my kind neer. Hy is veilig. Totale vrede. Vanaand is my gemoed weer swaar. Ek wil deur God gedra en getroos word. Ons klein lyfie is so weerloos en broos aan al die masjiene gekoppel. My babatjie. God, vou U liefdevolle genade om Christo'tjie vanaand en elke tree vorentoe....ons lees stories en sing en gesels.

Ons slaap min en verlaat net sy bed wanneer ek saans gaan slaap maar ek sorg dat ek al vroeg terug is by hom. Voor die nuwe susters aan diens kom sodat ek kan weet wat deur die nag gebeur het. Christo se bloeddruk val as die verpleegsters hom was of draai. Maar as ek in sy oortjie fluister is hy ok.

Hy hou nie van die storie van die eendjie wat wegraak van sy mamma af nie so ek lees nie meer daardie boekie vir hom nie. Maar hy raak baie rustig as ek vir hom die storie lees van die muis. So ek lees ek hom baie vir hom.

Ai, my bokkiebeer. Pappa moet binnekort vir 'n konferensie oorsee gaan. Die dokter dink nie dis 'n goeie idee nie. Dan lees ek maar weer die storie van die muis en sing Psalm 48. En bid. Bid baie. Want dis al wat ons kan doen.