26 Oktober 2015 - Maandag
Mamma
Christo se glukosetellings is weer normaal. As ek reg onthou moes hy daardie nag bloed kry. Maar verder het hy eintlik goed gedoen. Daar was selfs goeie breingolwe op 'n stadium en sy spontane bewegings het toegeneem. Breintellings verbeter ook elke dag. Maar daar's 'n storm in my. In my hart, in my kop, in elke gryntjie in my liggaam. My hart pyn. 'n Kolk van frustrasie, bekommernis, woede. Hy draai en draai en voel of hy my hart insuig na 'n donker diepte van onsekerheid.
En dan, beweeg 'n toontjie, 'n been, 'n handjie en die lig van Verligting steek Sy hand uit en trek my uit hierdie kolk met een vinnige beweging. Daar's lewe in gebed. Daar's 'n groter Hand. 'n Groter Krag. Ek is te klein om te verstaan en daarom bekommer ek. Ek moenie. Geen donker kan die lig van 'n kers uitwoed nie. Lig wen altyd. Hy is in beheer. Hy bestuur Christotjie se lewe. Sy liefde is groot.