25 Oktober 2015 - Sondag
Pappa
Vroeg die oggend is ek terug na Christo. Ek dink Anna-marie het later met Coert en Zani gekom. Baie mense kom by die hospitaal en bid saam met ons.
Ons spandeer die dae wat kom om by Christo te waak. Ons gesels met hom en vertel vir hom hoe lekker die vakansie in Gouritzmond gaan wees.
Ons sing ook vir hom. Baie. Vader Jakob en Psalms:
Salig hy wat in die lewe
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die Here alleen bly wag.
Ons is nog vol hoop en glo dat die Here ons seuntjie vir ons gaan teruggee.
Mamma
Christo se breintelling lyk nog bietjie beter. Elke punt nader aan normaal is vir my positief. Vandag het hy sy voetjie beweeg. Spontaan. Sonder aanraking. Die dokter is skepties maar hy laat kom 'n masjien wat die breinfunksie monitor. Dit laat my moed val. Dit lyk glad nie positief nie. Maar sy voetjie beweeg steeds van tyd tot tyd en sy hartklop verander as ons in sy oortjies fluister.
My vriendin koop vir my 'n boek en ek begin skryf. 'n Ander vriendin het vir ons 'n hout boksie gekoop. Ons het Christo se afgeskeerde haartjies hierin gesit. Hy't die mooiste ligte krullebos met 'n rooi skynsel.
Ek praat elke nuwe verpleegster moed in. Hulle is geseënd om deel te wees van hierdie wonderwerkstorie. Hulle is vreeslik goed vir Christo. Ons moes 'n foto'tjie en speelding bring om by sy bed op te sit. Dit help hulle om te sien hoe hy gelyk het voor alles. Hy is nie net 'n siek kind in 'n hospitaalbed nie. Hy's 'n 3-jarige seuntjie met krul haartjies wat lief is vir karretjies en buite speel. Coert en Zani se skoolmaatjies maak kaartjies en briefies. Ons plak dit ook op teen die mure. Die gebedsgroepe en Facebook vriende en liefde groei steeds. Dit moet deel van God se wonderwerk wees.....