Share

24 Oktober 2015 - Saterdag


 

Pappa
Vroeg die oggend is ek terug by die hospitaal. Ons waak. Vriende, familie en kollegas kom bid saam met ons. Ons wag dat die tellings verbeter. Die swelling op die brein moet afkom, breinfunksie moet iets wys en Christo moet weer self begin asemhaal.

 

Mamma
Christo'tjie se handjies en voetjies en gesiggie het begin swel. Die medisyne word weer aangepas en teen die middag lyk hy weer beter. Ek is heeltyd by hom. Help waar ek kan en staan eenkant as ek moet. Die neuroloog was weer by hom. Hy sê niks. Breintellings het effens verbeter maar steeds baie sleg. Die verpleegster draai Christo. Ek smeer hom roompies in en toe beweeg hy sy toontjie. Ek en die verpleegster kyk na mekaar. Refleks? Dalk. Ek vat weer aan sy voetjie en sy toon beweeg weer. Ok, dink ek. Dis beter as twee dae terug....ons bly bid.

 

Pappa
Laat die aand ry ek vir die eerste keer in dae huistoe. Marisa bly by ons seuntjie. Oppad huistoe bid ek dat die Here my lewe vat in ruil vir Christo sin as dit Sy wil is.
By die huis slaap Coert en Zani by my in die kamer. Oupa Coert het by die huis dinge aan die gang gehou. Die kerk sorg elke aand vir kos.
Ek worstel met die Here.