Share

23 Oktober 2015 - Vrydag


 

 

Mamma
Vrydag. Christo se ICP is 72 en sy CPP is 10. Sy sodiumvlakke is problematies en sy glukose telling was met opname 24. Die span verpleegsters, die neuroloog en dokter Bartlett is ongelooflik! Christo lyk of hy op die maan gaan loop met sy verkoelingspakkie aan. Hy sou nie hiervan gehou het nie, dink ek. Hy is op 'n ventilator, die masjien wat die drukking op sy brein monitor, 11 drips en hart en bloeddruk monitor. Die neuroloog het gister vir my gevra watter neuroloog het hom behandel.

"Niemand nie," sê ek.

Hy kyk my sprakeloos aan. Hy sê niks, maar hy is nie gelukkig nie.

Kort-kort doen hulle toetse. Glukose, plaatjies.....baie baie toetse. My sus bring vir my klere. Ons Facebook vriendegroep groei drasties. Oral begin mense gebedsgroepe. Die mediese fonds, kollegas, vriende, familie, kerkgroepe, selfs gebedsgroepe oorsee. Die Here het 'n rede hiervoor, dink ek. Christo'tjie gaan God se lewende wonderwerk wees waaroor ons vir jare gaan getuig. Hoekom anders sal daar so baie goed verkeerd gaan? So baie dokters wat eenvoudig net behandeling gestaak het of eenvoudig net nie wou behandel nie. Hier is 'n rede hiervoor. Ek is geseënd om sy mamma te kan wees, want hy gaan eendag sy storie vir baie mense vertel. Hy gaan God se lewende wonderwerk wees.

 

Pappa
Ons bid. Ons waak by Christo. Smeek by die Vader vir sy lewe.
Vriende en familie kom praat ons moed in. Bid vir Christo. Ds. Wikus kom bid ook vir ons en ek dink - "Die Here sal ons kind se lewe red". Ons is dan Sy kinders en het spesiale guns by Hom. Dit is in Sy mag en ek glo volkome dat Christo gaan herstel.
Ons praat met Christo'tjie baie.Vertel vir hom van die vakansie wat ons In Gouritzmond gereël het en hoe lekker ons gaan vlieg - Hy het dit mos so geniet die vorige keer toe ons gevlieg het.
Ag asseblief seun, veg! Ons seuntjie veg vir sy lewe. Daar is weer hoop, al lyk die situasie hoe sleg.

 

Pappa
Die aand van 23 Oktober 2015 gaan ek alleen na die gastehuis. In my verdriet is ek alleen. Ek is stukkend. Ek bid dat die Here my krag moet gee om nie moeg te word om my seun se lewe van Hom af te smeek nie. Ek worstel met die Here.