Share

22 Oktober 2015 - Donderdag


 

Mamma
Ons wag steeds. Behandeling is steeds nie aangepas nie. Neuroloog het steeds nie opgedaag nie (en daar is twee by die betrokke hospitaal). My pediater bel rond en skarrel vir hulp. Betrokke pediater is hardegat en weier om 'n baie bekende neuroloog van Unitas te kontak soos versoek. Dit voel of dit net ons is wat Christo se lewe wil red. Die pediater skop vas. Hy kom besoek Christo vroegoggend terwyl ek daar is. Hy sit op 'n stoel oorkant my en kyk na die vloer.

"Ek weet nie eintlik wat julle wil hê nie. Hierdie masjiene moes gister al afgesit gewees het."

Net daar staan hy op en loop uit.....alle krag in my verhoed my om op hom af te storm en hom met die vuiste by te dam. Dalk is dit die totale verslaenheid van sy f@#-julle houding. Ek bly by Christo. My sussie kom later na my toe en sê sy vermoed die neuroloog het sopas by die saal uitgestap. Ek vra die verpleegster.

"Ja mev. Ek het haar gevra om na jou kind te kom kyk en sy het gesê sy weet nie van die kind nie en geloop."

Ek storm in die gang af en soek die spreekkamer. Ek weet ek is nie in beheer van my emosies nie maar ek soek tot ek haar spreekkamer kry. Die ontvangsdame sê sy is besig.

"Ek sal wag!"

Ek kan nie sit nie. Ek stap op en af. Louis bel my uit die kamer en sê ek moet dadelik terugkom. Die sluise is oop. Ek skree en huil en pleit dat die dokter asseblief net moet kom!!! Ek hardloop in die gange af. Asseblief Here, gee ons net nog bietjie tyd. Nie nou nie. Nie weer nie. Ek kom by die kamer. Christo'tjie is steeds op die ventilator maar hy haal weer self asem. Dankie Here. Dankie Here.

 

Mamma
My pediater reël self die oorplasing na Garden City in Johannesburg, spesifiek dokter Bartlett. Hy is 'n pediatriese ICU spesialis wat spesialiseer in breinbeserings. Die stupid dokter van die hospitaal waar my seuntjie al 2 dae op sy dood wag, weier om die oorplasing goed te keur. Goed, waar kan ek teken dat ek verdere behandeling by hierdie pateet en sy hospitaal weier sodat my kind by iemand kan kom wat beteid is om vir hom te veg? Die verpleegster probeer nog een keer om die dokter te oortuig om ons oor te plaas. Hy stem in maar hy's woedend. What ever. ER24 se span is gereed. Hulle kan nie glo waarmee ons sit nie. Hulle ry ons in middag spitverkeer Johannesburg toe. Dis 'n senutergende lang rit. Christo is stabiel.

 

Mamma
Dokter Bartlett loop baie ongeduldig op en af toe ons daar kom. Hy't Christo al die oggend 09:00 verwag. Hy braak behoorlik gal. Ek moet die opname vorms gaan invul terwyl hulle Christo op alles koppel. Toe ek in die ICU kom is ek verbaas. Verpleegpersoneel koppel drade en drips en masjiene. Dankie tog. Iemand gaan my kind probeer red. Hulle weet duidelik wat hulle doen en vertel hoe kosbaar elke minuut is. Die dokter praat met my oor wat gebeur het. As Christo binne 48 uur na die lumberpunch by hom was sou sy kanse beter gewees het.

"Jou kind lyk sleg. Wie is die sogenaamde dokter wat hom behandel het?"

Christo kry 'n ice cooling suite. Eerste ding is dat sy liggaamstemperatuur verlaag moet word om breintrauma te beperk. Vir twee dae het die ander dokter hom opgewarm om die masjiene af te sit. Die neuroloog kom boor 'n gat in Christo se kop om die breindrukking te monitor. Die tellings is baie sleg.

Dokter Bartlett sê: "Ek kan met medisyne dokter maar ons het 'n Hoër hand nodig". Ons bid sonder ophou.

 

Pappa
Die aand van 22 Oktober 2015. Vir die eerste keer voel dit of Christo behandel word. Ons is dankbaar. Marisa se werksmense betaal dat ek die volgende twee aande by 'n gastehuis daar naby slaap - Elzabe Zietsman se gastehuis.
Ek bid. Ek bid vir Christo se lewe. Ag, Here hoor tog U kind se gebede aan en red vir klein Christo!
Van nou af slaap Marisa in 'n kamer by die hospitaal. Daar is selfs 'n berader ook. Die personeel is van die heel beste in die land. Hulle veg vir Christo se lewe.