21 Oktober 2015 - Woensdag
Mamma
Ons moet Coert en Zani by die huis gaan haal. Hulle weet nog nie van hul boetie nie. Dis 'n swaar stilte tot by die huis. Die ontsteltenis van die nuus in my kinders se stemme en gesiggies maak my naar. Ek weet steeds nie hoe ons tot op hierdie punt gekom het nie. Maandag was boetie dan nog by die huis. Ons ry kleuterskool toe om Christo se gunsteling kombersie te gaan haal. Almal is geskok. Terug by die hospitaal wag ons. Mamma, pappa, boetie, sussie, familie, vriende, kollegas en die dominee. Ons wag om die masjiene af te sit. Die dokter kom eventually na 11:00 daar.
"Wil julle wag vir die neuroloog?"
"Ja, natuurlik," sê ek. Die neuroloog was nog nie daar nie. Die dokter antwoord bot:"dan moet julle wag tot môre, sy's in Johannesburg vir botox."........
Mamma
Dit is onaanvaarbaar! My vriendin bel Christo se pediater (ons pediater mag nie by die betrokke hospitaal werk nie want sy's nie daar geregistreer nie). Sy is woedend! Sê ons sit niks af nie! Sy kry toestemming en jaag deur. Sy vat Christo vir 'n MRI prefusion/perfusion scan. Groot gesukkel want hy's op ventilator. Maar sy vat hom self in en pomp asemhalingsakkie terwyl hulle die scan doen. Daar is nog bloedtoevoer na Christo se brein. Dit lyk asof hy Arnold Chiari het. Die opening tussen sy rugstring en brein is vernou. Tydens die lumberpunch het 'n stukkie van die brein uitgesak wat drukking veroorsaak.
VIR DIE EERSTE KEER WEET ONS WAT AANGAAN! - Twee dae nadat hy opgeneem.
Sy maak 'n aanbeveling vir behandeling. Daar's nog hoop. Die Suster skryf als neer. Ons pediater bel die ander pediater en hy wil weet hoekom sy so hard druk want "hy's 'n vegetable". Hy doen niks.