Share

20 Oktober 2015 - Dinsdag


 

Mamma
Christo se pediater is vandag terug van siekverlof af. Sy kom dadelik hospitaal toe. Sy stem nie saam dat sy toestand 'n gevolg van 'n allergiese reaksie is nie. Dis brein trauma. Sy stel voor dat 'n neuroloog hom kom sien. Later die dag vind ons uit dat nie een van die twee pediatriese neuroloë hom kan kom sien nie. Heelwat later die dag word ons aangeraai dat hy eerder na 'n ander hospitaal oorgeplaas gaan word. Sy toestand bly verswak.

Pappa
Christo moet oorgeplaas word na 'n pedriatiese ICU. Ons naaste een kan hom nie vat nie. Hy word dus oorgeplaas met 'n ambulans 'n hospitaal anderkant die berg. Ek ry vooruit om Christo en Marisa daar te kry. Ek dink nog daaraan hoe ek eendag aan hom sou vertel hoe hy in die ambulans gery het - hy was mos versot op motors. Ek het later gehoor dat met sy vertrek by die hospitaal 'n kerkgroep daar vir hom kom bid het.
Ek wag dus vir Christo by die volgende hospitaal. Christo is op 'n ventilator, maar haal nog self asem.....

Mamma
Die ongelooflike personeel van ER24 kom haal vir Christo'tjie. Hy moet na 'n pediatriese ICU oorgeplaas word. Ek hou nie van die hospitaal wat die dr. voorstel nie maar sê sy sal beste weet. Die betrokke hospitaal het twee pediatriese neuroloë en sy voel dis beter. Die EEG masjien word ontkoppel vir die oorplasing. Ek ry saam met Christo met die ambulans. Buite staan 'n groep mense van die Biker kerk. Hulle bid vir Christo'tjie voor ons hom in die ambulans laai. Wanneer het Christo'tjie so baie harte aangeraak? Ek voel rustig. By die ander hospitaal aangekom is hy stabiel. Hy haal steeds self asem. Pappa en tannie Martie wag vir ons. Hulle vra ons om 'n rukkie buite te wag terwyl hulle hom oorsit in sy nuwe bedjie. Toe die ER24 engele by die gang afstap roep die dr. ons in.

"Julle seuntjie is breindood. Ek weet nie of julle orgaanskenking oorweeg nie?" WAT????!!!!!

Pappa
Christo en Marisa kom by die hospitaal aan in die ambulans. Papierwerk word gedoen en ons word gevra om 'n paar minute buite te staan. Christo haal nog self asem met bystand van die ventilator. 'n Paar minute later roep die dokter ons.......
"Julle kind is breindood. Wil julle sy organe skenk?"
Ons is verslae en verward!
"Huh?"
Die dokter se vinger wys na die monitor met die woorde: "Ja, kyk. Hy kan nie eens self asemhaal nie!"

Mamma
Ons mag maar afskeid neem deur die aand by hom in die hospitaal te slaap. Sy liggaamstemperatuur moet verhoog word sodat hulle wettiglik die masjiene mag afsit. Net 2 dokters hoef in te stem. Neuroloog sal volgende dag kom. Hulle skuif Christo na 'n privaatkamer. Ons sit verslae in die gang buite PICU saam met familie, vriende en kollegas. Niemand het woorde nie. Die man wat die EEG gedoen het kom vra om verskoning vir die dr. Ek hoor niks. Niks. Daardie aand slaap ek saam met Christo is sy hospitaalbed. Ek liefies en huil en bid en liefies en huil en bid. Môre mag nie kom nie

Pappa
Die aand van die 20ste slaap ek en Marisa by Christo. Marisa by Christo in sy bed en ek voor die bed. Oupa Coert het in die tyd oorgeneem by die huis en sien om na Coert en Zani. Die kerk help met kos by die huis.
Môre, as die neuroloog gekom het word die masjiene afgesit.
Coert en Zani weet nog nie.