19 Oktober 2015 - Maandag

In die middag voor sy hart gaan staan het, en die dokter gedink het dis 'n allergiese reaksie
Mamma
Christo'tjie moes 11:00 weer by die pediater wees (nie sy gewone pediater nie want sy was afgeboek). Voordat ons by die huis gery het, het hy Cars op my skootrekenaar gekyk. Hy't gevra dat Kosie-hond by hom moet kom lê. Kosie het styf teen Christo se ruggie gaan lê terwyl hy sy storie gekyk het. Ons is pediater toe en sy het gesê sy gaan hom opneem vir 'n lumberpunch. Hy het nog self by die spreekkamer uitgestap met sy suigstokkie in sy hand, maar hy wou hom nie eet nie. In die kar het hy aan die slaap geraak. Hy het eers wakker geword toe ek met hom in my arms by die hospitaal ingestap het. Sy woordjies aan my was: "Mamma, my hartjie is seer. Vat my huis toe." Dit was sy laaste woordjies aan my....
Later . . . . . .
Ek dring aan dat hulle Christo'tjie op die bloeddruk masjien sit wat sy hartklop ook monitor. Ek voel onrustig. Hy begin skree en krap dan aan sy oë. Ek sê vir die suster om die pediater te bel. Pediater sê sy dink dis 'n allergiese reaksie. Hy het egter geen uitslag nie. Hulle spuit iets in die drip in vir die allergie. Die dr. kom maak weer 'n draai saam met die hoofsuster en hulle sê ek moet rustig wees want kinders reageer verskillend op die medikasie. Intussen moes ek en die verpleegster sy handjie met 'n verband toebind sodat hy (letterlik) nie sy oë moet uitkrap nie. Die dr. se antwoord is dat as ek nie tevrede is nie, kan hulle hom oorplaas na 'n ander hospitaal (waar ek natuurlik glad nie by hom kan oorslaap nie). Sy laat my voel soos 'n oor-emosionele ma. Maar my instink was reg, en sy was verkeerd! My sus kom later inloer. Pappa is huis toe na boetie en sussie. Christo begin snaaks asemhaal. 19:40 skiet sy hartklop die hoogte in en hy word voor my oë blou. Toe gaan staan sy hart. My kind sterf....die eerste keer. Daar is nie 'n ongevalle afdeling by die betrokke hospitaal nie, en dus nie 'n ongevalle dokter byderhand nie. 'n Ortopeut wat pas uit die teater uit gekom het hoor die alarm en kom help. Hy intubeur vir Christo en bring hom terug. Die pediater kom baie verward later daar aan en plaas hom oor na ICU. Hy het brein trauma maar sy weet nie hoekom nie. 'n Opvolg MRI word egter nie gedoen nie -- die MRI dr. dink nie dis nodig nie, en die pediater stem in. Daardie aand sit ons saam met geliefdes op die vloer voor die ICU.... en ons bid.
Pappa
Die dokter verwar 'n lumberpunch breinbesering met 'n allergiese reaksie. Hulle bind sy handjies toe met verbande omdat hy sy gesig stukkend gekrap het van die hoofpyn. Toe ek daar aankom kreun Christo van die pyn. Ek dink nie hy het geweet ek was daar nie. Ons vra die verpleegster om die dokter te laat kom. Die dokter lyk ge-irriteerd en verduidelik dat dit 'n allergiese reaksie is wat sal uitwerk. 6 uur die aand op hierdie selfde dag gaan staan Christo se hart.......
Die aand van die 19de Oktober tot die volgende oggend sit ons op die vloer voor die ICU. Ek en Marisa mag van tyd tot tyd ingaan by Christo. Hy reageer as ons aan hom raak. Wanneer ons met hom praat versnel sy hartklop. Ons word aangeraai om nie te veel met hom te praat nie. Hy is op 'n ventilator, maar kan self asemhaal. Die ventilator is vir ingeval hy weer ophou asemhaal.
Die dokter wat hom bygebring het, reken dat hy vinnig genoeg was sodat daar nie skade behoort te wees nie. Geen verdere ondersoek word gedoen nie. Saam met familie en vriende bly ons by Christo en bid ons tot die volgende dag.