18 Oktober 2015 - Sondag

Mamma
Vanaand..... tien jaar gelede....die laaste aand wat Christo'tjie by die huis geslaap het....sy koors het hoog gebly, ten spyte van Voltarin setpilletjies. In ons harte het ons geweet dis weer breinvliesontsteking. Ons het net geweet. Ek onthou die dr by Kloof hospitaal se woorde die vorige keer dat hy dit gehad het...."jou kind het net een brein." Hy't by ons in die bed geslaap, soos altyd. Sy laaste aand by ons in die huis.
Pappa
Vroeër die dag het ons by Anna-marie geëet. Hy het terug gegaan vir nog 'n vleisie. Ons het skaapboud geëet. Dit was 'n Sondag gewees.
'n Paar weke tevore het ek vir Christo 'n rooi Lightning McQueen karretjie gekoop. Christo was versot op die karretjie gewees.Die aand voordat hy hospitaal toe is het ons almal in die sitkamer TV gekyk. Die volgende oomblik spring Christo op en gee my 'n stywe drukkie met die volgende woorde: "Dankie Pappa, dankie!". Karretjie in die hande.