5 November 2015 - Donderdag
Mamma
Christo'tjie het 'n baie swaar nag gehad. Die tyd is hier, besef ek. Ons gaan hom nie terugkry nie. Ek bel vir Louis.
Mamma
Dit waarvoor geen ouer ooit gemaak is nie. Ons sit by Christo'tjie in sy laaste minute. Sien hoe die hartjie stadiger klop. Ek bid. Baie hard. My hand op sy hartjie....dis verby...
Pappa
Op 5 November 2015 en presies op 11:51 is ons seuntjie na die Here. Hy was 3 jaar, 6 maande, 2 dae en presies 4 ure oud gewees.
Pappa
In die agtermiddag. Christo is oorlede. Ek en Marisa moet huistoe om vir Coert, Zani en Oupa te gaan vertel. Dit is swaar en die pad huistoe vanaf Johannesburg voel ekstra lank. Dit is stil in die kar. Ons is verslae. Ten gronde.
By die huis is die kinders opgewonde en dink dit moet goeie nuus wees as ons saam by die huis aankom. Dan kom die nuus. Die aaklige nuus. Oupa en die kinders is verpletter en die rou snikke kom uit die harte van 'n oupa, boetie en sussie. Oupa huil soos 'n kind saam met die twee kinders.
Dit is swaar Here! Waarom Here?
Daardie aand hallusineer ek as gevolg verkeerde kombinasies van verskillende kalmeermiddels. Ek beleef apies wat my vanuit die dak aanval.